Frank Vos vier 100 jaar in bedryf!

Frank Vos Motors, een van Worcester se bekendste voertuighandelaars, vier hierdie jaar sy 100ste bestaansjaar.
Min mense in die dorp weet nie waar Frank Vos geleë is nie. Frank Vos was een van die heel eerste handelaars in Suid-Afrika wat voertuie verkoop het, en vandag spog hulle met twee takke: een in Worcester en een in Somerset-Wes. Frank Vos Motors is in die vroeë 1900’s deur Frank Vos gestig. Hoewel die presiese datum onbekend is, begin dokumentasie in 1928 reeds. ’n Foto van die handelaarskap met ’n grasdak en 13 motors – almal 1927- Chevrolets – wat buite geparkeer is, wys die onderneming het voor dit reeds bestaan. General Motors se rekords begin eers in 1929, kort nadat die fabriek in Port Elizabeth geopen is. Voor dit is Chevrolet’s deur Stuttaford Van Lines ingevoer.
Die onderneming is destyds oorgedra aan Attie Koorts, die skoonseun van Frank Vos, wat dit in 1957 aan Doug Grieve en sy skoonpa, Gustav Breusing, verkoop het.
Die motorhandelaar is sedert 1957 in dieselfde familie se besit. Doug was ’n geoktrooieerde rekenmeester in Johannesburg. Nadat hy Gustav se dogter, Audrey, ontmoet en met haar getroud is, het hy by die Williams Hunt-groep aangesluit en eers ervaring in die motorbedryf as rekenmeester en later as handelaarshoof opgedoen.
Gustav is in Worcester gebore en het hier grootgeword. Sy pa, Herman, het ‘n fietsonderneming gehad. Maar, met die koms van die sogenaamde “horseless carriages”, het hy sy sakebelange spoedig na die motorbedryf verskuif.
Herman het ook die eer gehad om die eerste motor in Worcester te besit – ’n Benz met ’n hefboomstuur.
Sy tweede motor, ’n 1902-Wolseley, bestaan nie net nog nie, maar is ook nog in ’n goeie toestand. Dié motor staan by
die Crank Handle-klub in Kaapstad, maar word steeds soms vir ’n uitstappie na Worcester gebruik.
Gustav het hom by sy pa se onderneming aangesluit totdat hy op 43-jarige ouderdom afgetree het. Hy en sy vrou, Eileen, het toe na Johannesburg verhuis om nader aan hul enigste dogter te wees, maar die roeping om terug te
trek Kaap toe, was sterk. Nadat hy verskeie motorhandelaars ondersoek het, het hy en Doug op Worcester besluit.
Frank Vos Motors word nou besit deur Andrew Grieve, Doug se seun, wat ná die voltooiing van sy BCom-graad aan die Universiteit van Kaapstad besluit het om in 1993 na Worcester terug te keer. Hy is getroud met Nikki en hulle het
drie kinders – Michaela en die tweeling Caitlin en Douglas.

Wiehann van Tonder is die handelaarshoof en Ian van Tonder is die finansiële direkteur. Die onttrekking van GM aan Suid-Afrika in 2017 was ’n groot uitdaging vir die handelaar, maar dit het hulle nie ondergekry nie en sedert 2017 gaan Frank Vos van krag tot krag met nuwe toevoegings soos Suzuki, Haval, GWM en die Powerstar-vragmotorreeks. Die handelaar pronk ook met die nuwe toevoeging van ’n vragmotordiensfasiliteit, wat in 2021 net langs die N1-snelweg in Worcester geopen is. Die werkswinkel voldoen aan die diensvereistes vir alle handelsmerke en modelle. Frank Vos het tans 100 werknemers, verspreid oor sy twee takke en die nuwe vragmotordiensfasiliteit.
Die handelaar het dekades se ondervinding in die motorbedryf en is oor die jare deur mense se vertroue opgebou.
Vir die nabye toekoms hou Frank Vos Motors die oog op uitbreiding en om sy produk aan ’n groter mark te bied.
Die motorhandelaar het oor die jare lojale klante opgebou wat altyd terugkom as hulle nuwe voertuie benodig.
Die handelaar verwelkom ook mededinging, want dit hou almal op hul tone om die beste moontlike diens te
verskaf.

 

 

Privacy & Cookie Policy

We take your privacy very seriously and in accordance with the POPI Act, please take a minute to review our Privacy Policy and Cookie Policy.